Majuba gedenkteken
Simboliek
Jo Roos
Onthulling
Amajuba 1997
Eerste Vryheidsoorlog
Slag van Majuba
Die Stem

Slag van Majuba

     
  Hersien: 7 Februarie 2023 ** Revised: February 7, 2023

    

    

LW: Hierdie webwerf is deel van ARKpark se argief en die inhoud is laas in 2001 opgedateer...Hersien: 7 Februarie 2023
NB: This site is part of ARKpark's archive and the content was last updated in 2001...Revised: February 7, 2023

 

Majuba

Waarom 'n gedenkteken by Majuba?

Majuba gedenktekenDie een belangrike kenmerk van die Boere-Afrikanervolk is sy hunkering en strewe na vryheid. In ons verlede moes ons eers veg vir ‘n eie land en daarna moes ons verder worstel om hierdie eie land te behou... en in die stryd het baie bloed van ons mense gevloei.

Ons geskiedenis word dus gekenmerk deur ongelooflike hoogte- en dieptepunte. Daar was momente van seëvierende oorwinning, maar daar was baie momente van pyn, lyding en hartverskeurende vernedering.

Die Boere-Afrikanervolk het deur die loop van jare by die meeste oorwinningsplekke en by die neerlaag- en pynplekke gedenktekens en monumente opgerig sodat die volk die gebeurtenisse moet onthou, en dit oorvertel aan ons kinders.

By Majuba, het die Boere, met die genade van ons Hemelse Vader, en deur skitterend strategies beplande vernuf en eendragtige optrede, die Engelse verslaan. Dit was die finale oorwinningslag oor die magtige Britse Ryk in die Eerste Vryheidsoorlog! Al was dit so ‘n groot neerlaag vir die Engelse, het hulle drie monumnent op die berg opgerig, en ons volk het nog geen gedenkteken opgerig om ons te herinner aan die Majuba oorwinning nie.

Tydens die 1996 Kongres van Aksie Vrouekrag (die kultuurorganisasie vir die Boere-Afrikanervrou), het hierdie saak onder bespreking gekom en die volgende besluite is geneem:

1. Dat die volgende kongres op 7 en 8 Maart 1997 DV aan die voet van die geskiedkundige Majubaberg, wat sy mooi voetheuwels uitstoot in die Transvaal, die Vrystaat en Natal, gehou word;

2. Dat tydens die Kongres ‘n monument opgerig moet word ter herinnering aan die oorwinning van die Boere oor Brittanje;

3. Dat die monument moet dien as inspirasie tot die eeufeesherdenking van die Tweede Vryheidsoorlog, want toe die Britte in 1899 weer ons land binne marsjeer, het hulle mekaar opgesweep en gefluister: "Remember Majuba";

4. Dat die monument 'n boodskap moet uitdra na die volk. Ons volk is nou in 'n ander wurggreep as in die verlede, dié van kommunisme en sy vennote. Die boodskap van die monument moet die volk vra om homself te ontworstel van die wurggreep wat al nouer om ons nekke trek. Met mag en mening moet ons volk onafhanklik word, op alle terreine van die volkslewe ons eie werk doen en terugvat wat aan ons behoort!

Ons volk moet bereid wees om al die hoër berge as Majuba eendragtig, sonder aarseling uit te klim! Klim die kranse van die onderwys, die gesondheid, oorlewing, kultuur, veiligheid, ja, klim die krans van selfoortuiging om alles op te offer vir vryheid! Bly klim met geloofskrag en wilskrag, tot ons weer ons eie Vaderland het!

Op die monument is ingegraveer die woorde van G. A. Watermeyer:

"Met moed, om teen die môrekim méér as Majuba uit te klim"

Aksie Vrouekrag vra die volk om eendragtig, klimmend te veg en vegtend te klim!

Lucia van den Berg
Voorsitter

Die Majubamonument

(Kort samevatting van toespraak by onthulling van Majuba-monument)

Die twee grootste gedenkdae in die Boerevolk se geskiedenis is die slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 en die slag van Majuba op 27 Februarie 1881. Die eerste was die Boerevolk se oorlewing teen barbarisme en die tweede sy oorlewing teen Britse Imperialisme. Beide veldslae was wonderwerke - wonderwerke van God. As ons as Boerevolk dit nie meer raaksien nie, dan sal hierdie monument ons daaraan herinner. As ons God se almag en beskikking in ons vryheidstryd vergeet, sal die klippe van hierdie berg (Majuba) dit uitroep.

In die 19de eeu was Groot Brittanje die magtigste wêreldryk op aarde. Hulle het byna een-vyfde van die aarde se oppervlakte besit. Hulle hebsug en magswellus was onstuitbaar - totdat hulle hul teen die berg van Majuba vasgeloop net. In ongeveer 80 oorloë wat Brittanje in die l9de eeu rondom die aardbol gevoer het, het hulle slegs één verloor: teen die Boere in die Eerste Vryheidsoorlog van 1880 - 1881. En met Majuba is die magtige Britse ryk tot in sy fondamente geskud. Die trilling van ‘n politieke aardbewing het deur die wêreld gegaan. Die Engelsman kon hierdie veldslag nog nooit verwerk nie en Majuba het Engeland se grootste, bose wraak ontketen. ‘n Verbitterde koningin Victoria het by die Engelse se verpletterde neerlaag uitgeroep: "I don’t like peace before our honour is not retrieved." "Remember Majuba!" was die Tommie se oorlogskreet en 20 jaar later het Groot Brittanje met sy derduisendes toegeslaan om strome bloed oor ons velde te laat vloei. En toe hulle nie ons dapper burgers kon oorwin nie, het hulle teen ons vrouens en kinders begin veg. In 45 konsentrasiekampe het byna 27 duisend binne 18 maande gesterf. 0ok ongeveer 30 duisend Boereplase is tot die grond vernietig. Swart rookwolke het maandelank die lug oor die Transvaalse en Vrystaatse velde donker gemaak.

En ons vandag? Weer eens is ons volk in die krisis om te oorleef. Die duiwelse doelwit om hierdie volk met sy protestantse godsdiens, sy Afrikaanse taal en kultuur te vernietig, is nog nooit laat vaar nie. Maar laat ons ‘n slag by hierdie monument gaan stilstaan en oor hom na die berg Majuba in die agtergrond kyk. Laat ons nuwe besieling uit God se reddingsdade van die verlede put - en vooruit en opwaarts beur!

(Prof Victor d’Assonville)

Berg Majuba
Bo: Die monument op 'n klein koppie met die berg Majuba in die agtergrond.

 

 

 

 

Tuis
Majuba gedenkteken
Simboliek
Jo Roos
Onthullingsprogram
Amajuba 8 Maart 1997
Eerste Vryheidsoorlog
Slag van Majuba
Die Stem
Inligting

ADSA Advertensies

ARK Web Design since 1998
ARK Webontwerp sedert 1998

Lys van kunstenaars by Piazza
List of artists at Piazza

SwallowSoftware, Calgary, Alberta
swallowsoftware.arkpark.net
Calgary, Alberta

ARK Web Design © 1998 - 2023
ARK Webontwerp © 1998 - 2023

Bekering

'n Christen…

Bybelteks

Bible Text