Majuba 1997
Dankwoorde en Gelukwensing
Dit is my besondere voorreg om Aksie Vrouekrag o.l.v mev. Lucia van den Berg
geluk te wens en te bedank vir hierdie gedenkteken. Ek doen dit namens die Afrikaner
Kultuurbond en alle kultuurorganisasies wat steeds werk vir die opbou en bevryding van ons
volk.
Wat in hierdie gebeure vandag op die voorgrond tree, is die ywer,
deursettingsvermoë en die vergesig van die vroue van ons volk. So word 'n tradisie van
ons volk vandag steeds voortgesit.
Wanneer 'n mens op die top van Majuba staan en suidwaarts kyk, sien 'n mens,
meer as net in jou geestesoog, van die aangrypendste momente in ons volksgeskiedenis.
- Ver, op die gesigseinder, lê Bloedrivier - die geboorteplek van ons volk en
vryheidsideaal.
- Die ideaal, wat in 1812 deur 'n vroue-afvaardiging o.l.v Johanna Smit, verwoord
is met die bekende woorde: "Meneer Cloete, al moet ons
ook kaalvoet en blootshoof oor Drakensberg loop, sal ons nie onder die Britse vlag berus
nie."
Maar die imperiale opmars het voortgegaan. Vlak voor jou oë lê Isandlwana en
Korkes Drift - veldslae van die Britse imperialisme waarmee die Zoeloevolk in 1879
onderwerp is. Hierdie onderwerping was nodig sodat die Britse oorlogsmasjien kon voortrol
om 'n pad oop te stoot in die ZAR om hom sy vryheid finaal te ontneem.
- En hier op Majuba was dit, volgens oorlewering, weer 'n vrou, mev. Joubert, wat
die Britse aanvalsmag op die berg gesien het en die Boere aangespoor het om hulle daar te
gaan afhaal.
Foto onder: Die paneel word eers in klei gemodelleer
en daarna in gips
gegiet. Mev. Dingie Roos by die gipspaneel.
Hier op Majuba is die Britse imperiale opmars gestuit - minstens tydelik. Op
hierdie berg het ons vryheidsideaal konkrete gestalte gekry. Daarom is Majuba n
simbool van vryheid. Só deur hierdie monument hoop ons dat dit 'n lewende vryheidsimbool
vir ons volk sal bly. Ook vir die geslagte wat kom -
hulle wat met moed, om teen die môrekim,
meer as net Majuba uit moet klim.
Maar juis vanweë sy betekenis, moes Majuba gewreek word. Daardie wraak is
uitgegiet met die Tweede Vryheidsoorlog en afgerond met die vernederende vredesvoorwaardes
van Vereeniging in 1902. Majuba moes, figuurlik gesproke, deur die imperiale stootskraper
platgestoot word.
Weer staan die Boervrou voor ons. Dit was immers sy wat die grootste offers in
die konsentrasiekampe gebring het. Maar dit was ook die vroue wat na 1902 weer begin het
om die verslane en verflenterde Afrikanervolk op te hef - selfs met die hulp en leiding
van 'n vrou uit die vreemde, Emily Hobhouse. Nou is ons as volk weer platgeslaan. Hierdie
keer deur die wêreldimperialisme wat ons ons vryheid ontneem het. En weer is dit die krag
van die vrou, wat met fyn aanvoeling en met 'n vergesig op ons vryheidsideaal, hier 'n
baken kom plant het om ons daaraan te herinner dat die vryheidsvlam nie dood is nie. En om
ons weer hoop te gee uit ons verlede.
Want die berg het gebly! En nou is hy versier met hierdie gedenkteken. So kan
ons terug kyk op die verlede. Maar kyk ons verder, sien ons steeds die flikkeringe van ons
vryheidsideaal wat nie gedoof is nie en nie gedoof sal word nie.
Vryheidsvlam
geskryf deur N.P.
Van Wyk Louw
Dis nie die vlam van blinde haat wat skroei
en sinsverdowend ru ons siel verteer
Die vryheidsvlam - die vlam van hoop;
dis wat uit as van rou herinnering
steeds in ons volkshart gloei.
Die stikkend as wat smoor en doof
sal deur die wind weer
afgewaai,
die helder vryheidsvlam
ontbloot
wat nog in ons gemoed bly
brand. |
Foto onder: Die plek waar die monument opgerig moet word,
word bepaal.
|
Dan sal ons opstaan en met moed en krag
die juk afruk van eerloosheid en dwinglandy.
Vry! dit sal en moet ons wees - en kry
op Sy bestemde tyd - uit dank vir voorsaat
en uit plig vir nageslag. |
Mag hierdie daad van die vrou ons dan inspireer, dat ons nie net bly vassteek by
'n roemryke veldslag van die verlede nie. Dat ons nie die gesonke verlede met wraak oproep
nie. Dit is immers nie in ons volksaard nie. Maar dat ons met opgehewe harte hoër sal
klim, die toekoms in met die vlam van ons vryheidsideaal in ons hand.
Prof. Hendrik van der Wateren
GROETE BOODSKAP
Namens die Raad van Kuratore van die Voortrekkermuseum, Pietermaritzburg, asook
die Direkteur, dr. Ivor Pols, dra ek hartlike groete en gelukwense oor aan die bestuur en
lede van Aksie Vrouekrag en almal hier teenwoordig met die oprigting van hierdie
gedenkteken. Dit is voorwaar n uitstekende werkstuk waardeur die simboliek duidelik
na vore kom.
Baie geluk met die grootse gebaar.
Mev. Mientjie Geyser
|