Majuba gedenkteken
Simboliek
Jo Roos
Onthulling
Amajuba 1997
Eerste Vryheidsoorlog
Slag van Majuba
Die Stem

Slag van Majuba

     
  Hersien: 7 Februarie 2023 ** Revised: February 7, 2023

    

    

LW: Hierdie webwerf is deel van ARKpark se argief en die inhoud is laas in 2001 opgedateer...Hersien: 7 Februarie 2023
NB: This site is part of ARKpark's archive and the content was last updated in 2001...Revised: February 7, 2023

 

 

Die Eerste Vryheidsoorlog

Die Eerste Vryheidsoorlog (1880 -1881)

OORSAAK VAN DIE EERSTE VRYHEIDSOORLOG

Op 12 Februarie 1877 annekseer Sir Theophilus Shepstone die Suid-Afrikaanse Republiek (Transvaal) as ‘n kolonie van Groot Brittanje. Dit was ‘n verbreking van die Sandrivier-Konvensie van 1854 waarin Groot Brittanje die onafhanklikheid van die Boere-republiek gewaarborg het.

Na drie en half jaar van aanhoudende proteste by die Britse regering, kry die Boere geen antwoord nie. Groter belastings word opgelê en in Potchefstroom breek ‘n opstand uit.

Op 10 Desember 1880 vergader 10 000 Boere by Paardekraal (vandag Krugersdorp) en die Republiek se onafhanklikheid word met ‘n proklamasie uitgeroep. Die Vierkleur word gehys en ‘n Driemanskap (Paul Kruger as Vise-president, Piet Joubert as Kommandant-Generaal en M.W. Pretorius) moet die regering waarneem. Heidelberg is die tydelike hoofstad.

 

Vise-president Paul Kruger (1825 - 1904). Hy was die groot leier in die stryd om Transvaal se onafhanklikheid as republiek te herwin. Van 1881 af tot 1900 was hy Staatspresident en sterf in balling in 1904 in Switserland. (Skets deurJo Roos)

Die volgende veldslae het plaasgevind gedurende die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881)

  • Die Slag van Bronkhorstspuit (20 Desember 1880)
  • Die Slag van Laingsnek (28 Januarie 1881)
  • Die Slag van Ingogo (Skuinshoogte) (8 Februarie 1881)
  • Die Slag van Majuba (27 Februarie 1881)

DIE SLAG VAN BRONKHORSTSPRUIT

Kol Anstruther, met 'n militêre konvooi op pad van Lydenburg na Pretoria, is op 20 Desember 1880 by Bronkhorstspruit voorgekeer en in ‘n kort, bloedige geveg het generaal Frans Joubert en sy manne die Britte verslaan. Gesneuweldes: 57 Britte (waaronder Kol Anstruther); 2 Boere. Gewondes: 100 Britte; 5 Boere.

DIE SLAG VAN LAINGSNEK, 28 JANUARIE 1881

Op die heuwelrug Laingsnek, oos van die berg Majuba in Natal, was 1 500 Boere ingegrawe. Op 28 Januarie 1881 het Generaal Colley met meer as 1 000 man hulle aangeval. Weer eens is die Britte verpletterd verslaan. Gesneuweldes: 83 Britte; 14 Boere. Gewondes: 111 Britte; 27 Boere.

George Pomeroy Colley (1835 - 1881)

Generaal Sir George Colley was bevelvoerder van alle Britse magte in Suider-Afrika, Hoë kommissaris van die Britse regering in Suid-Afrika en Goewerneur van Natal. Hy stam uit ‘n Engels-Ierse militêre familie van ‘n hoë stand en is ‘n kleinneef van die Hertog van Wellington. Hy was een van die grootste Britse militêre deskundiges in die 19de eeu. Colley was ook ‘n begaafde kunstenaar: ‘n skilder, ‘n digter en ‘n musikus wat die flautino (fluit) bespeel het.

Daarby kon hy behalwe sy moedertaal ook Frans en Duits praat. As offisier neem hy deel aan die oorloë teen die Xhosas, Sjina, die Ashanti’s (Ghana) en doen diens in Indië. (Skets Jo Roos)

Generaal Colley sneuwel op Sondag 27 Februarie 1881 bo-op die berg Majuba en is op Mount Prospect, die eertydse terrein van die Britse kamp, begrawe.

Petrus Jacobus Joubert (1831 - 1900)

Generaal Piet Joubert was Kommandant-generaal van die Suid-Afrikaanse Republiek (Transvaal) en die tweede lid van die Driemanskap. Tydens President T F Burgers se besoek aan Europa in 1876 neem hy as staatspresident waar. Saam met Paul Kruger is hy een van die onderhandelaars met die Britse regering oor hulle verbreking van die Sandrivier-Konvensie en om te protesteer teen die Britse anneksasie. As vredeliewende mens word hy teen sy sin as opperbevelvoerder van die Boeremagte gekies. Tog aanvaar hy die pos en verrig sy taak met besondere militêre vernuf. Hy sterf aan natuurlike oorsake gedurende die Tweede Vryheidsoorlog aan siekte. (Skets deur Jo Roos)

Mev Hendrina Joubert wat haar man in die Boerekamp besoek het, was een van die eerste persone wat met sonop op Sondagmôre, 27 Februarie, die Britte op die kruin van Majuba opgemerk het.

Generaal Nicolaas Jacobus Smit (1837 - 1896), bevelvoerder by Ingogo en Majuba. Hy was ‘n uitstaande militêre leier. Sy strategie was verstommend suksesvol, veral met die slag van Majuba. Hy geniet groot vertroue onder sy manne. Later is hy volksraadslid vir Ermelo en word in 1887 as vise-president gekies. Internasionaal word hy hoog geroem: Pruise maak hom Ridder van die Rooi Adelaar en in Nederland word hy Kommandeur van die Orde van die Nederlandse Leeu. (Skets deur Jo Roos)

DIE SLAG VAN INGOGO (SKUINSHOOGTE)

Op 8 Februarie 1881 trek Generaal Colley met ‘n vertoonmag uit sy kamp by Mount Prospect op die pad na Newcastle. Hy wil die Boere wat sy konvooie op die pad aanval, ‘n les leer. Die mag bestaan uit 311 infanterie-soldate, 38 perderuiters en vier kanonne. Naby die samevloei van die Ingogo- en Harteriviere gewaar hulle ongeveer 160 Boere agter ‘n bult met die naam Skuinshoogte. Die artillerie kom in aksie, maar die Boere jaag op hulle af en al die kanoniers word gedood. Vir die res van die dag vind ‘n uitputtende geveg plaas, totdat ‘n hewige donderstorm toesak en die nag toeslaan. Colley gebruik die geleentheid om van Mount Prospect terug te trek terwyl die gewondes agterbly. Weer eens is dit ‘n groot verlies vir die Britte: 75 gesneuweldes en 83 gewondes. Die Boere verloor 8 manne en 6 is gewond.

Binne tien dae moes Generaal Colley en sy troepe tweekeer die aftog blaas. Op die pad na Pretoria het die Britte nog nie een tree gevorder nie. Ingogo was eerder ‘n tree agteruit.

DIE SLAG VAN MAJUBA

Die slag van Majuba het noodlottige gevolge vir die Britse magte gehad. Vir 'n kaart en om meer van die gebeure te lees, volg die skakel.

 

 

 

 

 

 

Tuis
Majuba gedenkteken
Simboliek
Jo Roos
Onthullingsprogram
Amajuba 8 Maart 1997
Eerste Vryheidsoorlog
Slag van Majuba
Die Stem
Inligting

ADSA Advertensies

ARK Web Design since 1998
ARK Webontwerp sedert 1998

Lys van kunstenaars by Piazza
List of artists at Piazza

SwallowSoftware, Calgary, Alberta
swallowsoftware.arkpark.net
Calgary, Alberta

ARK Web Design © 1998 - 2023
ARK Webontwerp © 1998 - 2023

Bekering

'n Christen…

Bybelteks

Bible Text